Om na 'n arm mens om te sien,is 'n lening aan die Here. Hy sal jou daarvoor vergoed. Spreuke 19:17
Ons dink met vreugde terug aan die loodsing van Getuienisaksie in 1988 toe die visie gelanseer was met “Geloofsofferbeloftes” en vandag gegroei het tot 'n bloeiende en groot bediening.
Ons kan nog verskeie groot gebeurtenisse uitlig wat gedurende hierdie 40 jaar wat deur die Hoof van ons gemeente - die Koning van die eeue - tot stand gebring is.
In die jaar 2001/2002 is daar deur die destydse Kerkraad (nou Gemeenteraad) besluit om 'n boufonds te stig vir die bou van die Ouditorium omdat die gemeente so vinnig gegroei het. Wanneer lidmate van gevra was om fondse by te dra vir 'n spesifieke projek het die harte en beursies wyd oopgegaan. Gedurende die eerste jaar in die beplanningstadium was bykans R1 miljoen ingesamel en toe die bouprojek 'n aanvang neem in 2003 was 'n verdere R1.08 miljoen bygedra. Aan die einde van 2004 was die boufonds reeds oor die R3 miljoen. Die gebou was amper kontant afgehandel.
MAAR……die Kerkraad het destyds in hulle wysheid besluit dat met die insameling van die boufonds, die gemeente nie net in bakstene en sement kan belê nie, maar dat Koningkrykswerk dieselfde aandag en toewyding moet geniet.
Derhalwe het hulle besluit op die stigting van 'n ERESKULD wat beteken het dat van elke Rand wat ingesamel was vir hierdie projek, 10% aan Getuienisbediening en 10% aan Diens van Barmhartigheid toegedeel word.
Alhoewel hierdie bedeling verval het, besef ons steeds dat die Evangelie verkondig moet word “in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria en tot in die uithoeke van die aarde” . Ons glo dat die plaaslike behoeftes van mense ook aangespreek moet word. “Charity begins at home!”
Diens van Barmhartigheid se kosstoor was nog altyd 'n groot bron van hulp aan baie behoeftige mense wat nie kos op hul tafel gehad het nie en ook nie geweet het waar die volgende stukkie kos vandaan sou kom nie.
Gemeentelede het oor die jare ruim bygedra met nie-bederfbare kruideniersware en toiletware. Baie van ons lidmate wat nie kans gesien het om kruideniersware self te gaan koop nie, het geldelike bydraes vir die doel gemaak.