Deel van ons visie is om opgerig te wees en mense te help om in die gemeenskap waar hul hulself bevind opgerig te leef. Ons jaartema vir 2022 bevestig dit dan ook – om die Liggaam van Christus te aktiveer sodat ons verskilmakers kan wees. Ons glo dat gemeentelede volgens hulle gawes, passies en talente moet dien.
Om te dien gaan alles daaroor om ‘n getuie vir Christus te wees, om soos Christus vir ons gewys het te leef. Dit gaan daaroor om tyd uit ons besige skedule te sit sodat ons God se liefde met ander kan deel. Dit gaan daaroor om verby jou “moet-doen” lysie en jou deurmekaar huis te kyk, om die behoeftes van andere in die gemeente, woonbuurt, gemeenskap en die wêreld raak te sien.
Daar is verskeie bedieninge waar jy jou talente en gawes, passies en roeping kan kom uitleef. Daar is ook verskeie plekke waar al die generasies in ons gemeente diensbaar kan wees.